Familie van Rooy

Familiefees Van Die Van Rooys

100 JAAR AFRIKANERSKAP

Deur G. J. Pienaar
Huisgenoot - 25 Julie 1958

Een van die laaste Afrikaanse families wat tot stand gekom het spesifiek vanweë die Katoliek-Protestantse geloofstryd vergader op 25 en 26 Julie in Potchefstroom om 'n terugblik oor 'n eeu van Afrikanerskap te werp. Die Van Rooys, na-eeugenote, is 'n klein familie, seker nog nie vierhonderd sterk nie.

Dit is geen trotse huldigingsfees wat beplan word nie. Toesprake vol roemtaal sal daar nie wees nie. Dit is sommer 'n egte familiesaamtrek, ingegee deur die feit dat dit vanjaar 'n eeu is dat die stamouers in Suid-Afrika voet aan wal gesit het en dat hulle enigste oorlewende kind, die gryse ds. J. A. van Rooy, op 9 Augustus sy 90e geboortedag herdenk.

Johannes Anne
Johannes van Rooy en Anne Holsters, stamouers van die Suid-Afrikaanse Van Rooy-familie. Johannes van Rooy het die Katolisisme ter wille van die Calvinisme prysgegee, al het dit hom alle familiebande gekos en al moes hy twee keer om lyf en lewe vlug.
Ewe gelowig was die eerste Anne van Rooy, maar vir haar tien kinders was sy 'n lieflike moeder. Van haar het die Van Rooys ook hul knappe sakevernuf geërf, want sy het uit 'n familie van sakemanne gestam en in haar jongmeisiedae self agter die toonbank gestaan.

Op 26 Januarie 1858 het Johannes Cornelis van Rooy en sy eggenote, Anne Francoise Holsters, met hul twee oudste kindertjies - die tweede is op die skip gebore - by Port Elizabeth aan wal gestap. Die doelwit? Onderwys vir die Boerejeug wat vrywel heeltemal van onderwys verstoke was.

Die seereis wat van 24 Oktober 1857 geduur het, was lank en die nuwe omgewing vreemd, maar op 34-jarige leeftyd het Johannes van Rooy in geestelike sin al 'n langer reis agter die rug gehad: uit die wêreld van die Katolisisme het hy in sy twintiger jare met die agterlating van alles wat vir hom dierbaar was, ook sy weduweemoeder, moeisaam voortgestruikel na die Protestantse geloof en die Christelik-gereformeerde Kerk.

Johannes was die jongste van 'n streng Roomse gesin van sewe kinders. Op tweejarige leeftyd is sy vader oorlede en sy moeder onbemiddeld nagelaat. Self was hy van kindsbeen innig vroom; hy is godsdienstig opgevoed en het as koorknaap in die Roomse kerk gesing.

In sy later jare het hy aan sy opgroeiende Afrikaanse kinders nog die Latynse kerkliedere voorgesing en met aandoening vertel hoe hy met trane oor die wange voor die beelde (veral die van die Moedermaagd met die kindjie Jesus op die skoot) gekniel en sy gebede geprewel het. Hy was die liefling van sy moeder, die vertroeteling van broer en susters.

Naas sy innige godsdienssin het reeds op jeugdige leeftyd sy ander twee groot geestelike liefdes ontwikkel: sy drang tot die onderwys en sy liefde vir die musiek, 'n driedubbele erfenis wat hy aan baie van sy nasate oorgedra het, o.m. aan mev. Susan Strydom eggenote van die Eerste Minister.

Vir die jong seun sonder geld was daar net een moontlikheid om as onderwyser opgelei word. In die onmiddelike omgewing het 'n hoofonderwyser gewoon wat leerling-onderwysers opgelei het. Maar die heer Quik was 'n ketter, lid van die Hervormde Kerk!

Daar was egter geen ander genade nie. Die 18-jarige Johannes "een streng regtvaardig Romanist", het by meester Quik in die leer gegaan, aanvanklik met die vaste voorneme om sy ore vir alle ketterse dwaalleringe te sluit, maar uiteindelik tog geïmponeer deur sy patroon se skriftuurlike onderwys met so 'n innige geloofsoortuiging.

Na lange twyfel en weifeling kon hy die versoeking nie meer weerstaan om die Bybel self te begin lees nie, "eers soos 'n dief, steelsgewys," maar uiteindelik openlik saam met sy patroon.

Tien jaar lank het die geloofstryd voortgeduur, want die Kerk van Rome laat nie maklik los wat hy het nie: daar was die verskriklike banvloek, die tere liefde tussen moeder en jongste seun, die priester as huisvriend met vaderlike seggenskap.

Maar eindelik het die breuk tog gekom: sy moeder kon met hom nie meegaan nie, al was sy heimelik simpatiek, sy susters was diep bedroef, sy broer woedend. Een aand moes hy vir sy lewe vlug van manne wat hom voorgelê het; op 'n ander keer moes die polisie hom teen geweldpleging beskerm. Hy het die waarskuwing gekry om te verhuis, en daar was nooit weer regstreekse verband tussen die jong "ketter" en sy familie nie, selfs nie toe sy moeder op die sterfbed gelê het nie.

Die verworpeling het na België uitgewyk, waar hy in Brussel in Nederlands onderwys gegee en self Frans geleer het. Hier het hy na hartelus saam met die "Vlaamsche Evangelische Gemeente" evangelisasiewerk gedoen en sy toekomstige bruid agter die toonbank van haar vader se sake-onderneming ontmoet: Anne Francoise, oudste dogter van ouderling Charles Holsters, 'n Franssprekende Vlaming, wat eertyds self aan die Katolieke Kerk behoort het.

Kort na die huwelik is Johannes en sy bruid na Nederland terug. Hier het die roepstem om regsinnige predikante en gelowige onderwysers vir die stamverwante Boere van di. Andrew Murray, sr. en jr. hom bereik, 'n roeping na sy hart, maar sy 24-jarige vroutjie en haar familie het gehuiwer. Maar eindelik, na die oorlye van moeder Holsters, het die boodskap gekom: "Ga in vrede en mag de Here met u meegaan."

Die eerste kennismaking met Suid-Afrika was nie sonder trane nie. Toe die ossewa gelaai was waarmee die Van Rooy-gesin binneland toe sou vertrek, het die klein voëlnessie onder die watent en die los leer waarmee sy moes opklim, die jong vroutjie laat terugdeins. "Van Rooy, ik stap nog liever te voet." "Wat, drie weken lopen!" "Drie weken?"

Koos van Rooy
Ds. J. A. van Rooy, vir die familie kortweg oupa Koos, is die jongste seun en laaste oorlewende kind van die Van Rooy-stamouers. 'n Man van vaste beginsels en groot vaderlandsliefde - in die Tweede Vryheidsoorlog was hy veldprediker by sy beminde vriend genl. Christiaan Beyers - is hy in die omgang vriendelik en saggeaard, 'n onderhoudende verteller en begaaf met 'n sin vir humor en die vermoë om fyntjies met 'n plooilaggie om die oë te spot. Hy is die oudste lewende predikant van die Gereformeerde kerk.

Haar jongste en enigste nog lewende seun, ds. J. A. van Rooy, het hierdie toneeltjie jare later in 'n boekie vir private sirkulasie onder die familie soos volg geteken: "Trane tap as sy die omgewone trappe opwaag. Daar trek dit nou op ossepas, met watter vooruitsig? Vir Ma net agteruitsig op die stofpad van haar hoë skommelende sitbed af."

Op Graaff-Reinet doen ds. Murray, sr., die voorstel dat Johannes van Rooy hom daar vestig as onderwyser, musiekmeester en orrelis, maar daarvoor het hy nie 6,000 myl ver gekom nie: die doelwit bly die Boerejeug wat heeltemal van onderwys verstoke was. Voort dus na die Hantam, waar hy onderwyser word op die plaas Weltevreden van die broers Pienaar, in die distrik Colesberg. Die gesindheid tussen die Van Rooys en Pienaars het altyd goed gebly, so goed dat twee Pienaar-broers 'n tagtig jaar later met twee Van Rooy-susters getroud is!

Vir Johannes, wat nooit 'n gesonde man was nie, was die Karoo die regte medisyne. "Ook nie te lank nie of die saal op die wakkerste perd is sy lekkerste sitplek en klaarpraat met die bok wat vir sy heldere kyk onder korrel en visier kom en bly staan dat hy op vaste voet met geoefende hand die voorlaaier aanlê" skryf sy seun.

Maar vir Meester se vrou was die aanpassing bitter moeilik. Met die geboorte van, Jan, die derde seuntjie, word sy dodelik siek. "Die dokter is gehaal en vertoef op aandrang totdat by eindelik vererg uitroep, sodat Ma dit hoor, dat sy inflammasie het en tog sal sterwe, Pa kan maar die doodkis laat maak, hy het nog ander pasiënte."

"Vriendehande druk Pa na bed om bietjie rus te neem in 'n ander kamer, waar hy in so 'n toestand geraak dat dit vir hom smaak of hy aan sy bene opgeruk word. Hy kom toe by die heer Pienaar in die vaste oortuiging dat Ma oorlede is en vra of die begrafnisbriefies al uitgestuur is. Hy kon eenvoudig sy ore nie glo toe hom verseker is dat Ma leef en aanmerklik beter lyk en voel nie ... Sy glimlag toe Pa weer inkom."

Lank het Meester, wat ook 'n eie boerderytjie begin aanskaf het en wie se seuns soos hul Afrikaanse makkertjies ook skaapwagters geword het, op een plek nie gebly nie. Van plaasskool tot plaasskool is getrek: in die distrikte Colesberg, Burgersdorp, Cradock en Middelburg. Al reisende en steeds lerende het Johannes hom verdiep in die Bybelstudie en die Nederlandse, Franse en Engelse literatuur, veral godsdienstige lektuur.

van Rooy broers
Die eerste geslag Afrikaanse Van Rooys: die vyf waardige seuns van Johannes van Rooy en Anne Holsters.
Links voor sit wyle oom Charl, op die seereis na Suid-Afrika gebore, boer, sakeman en politikus. In die middel sit wyle oom Henri, nog in Holland gebore, maar in sy nuwe vaderland het hy 'n patriargale Boer geword. Heel regs sit wyle oom Jan, die eerste Van Rooy wat op Afrikaanse bodem gebore is. Hy was boer en politikus en later Senator.
Links agter staan wyle oom Izak, versigtige en noukeurige sakeman, wat die "kapitalis" van die familie geword het. Regs agter is ds. Koos van Rooy, die jongste seun en enigste oorlewende kind van die stamouers. Ook hy was kortstondig in die politiek, hoofsaaklik ter bevordering van die onderwys.

Namate die kinders groter geword het, het ook hulle onderwys begin gee en veetjies begin aankoop: nege van die tien kinders het op een of ander tydstip skool gehou!

Met die stigting van die Gereformeerde Kerk se skool op Steynsburg moes meester Van Rooy teen wil en dank daarheen, al het sy klimmende jare hom meer tot die boerdery aangetrokke laat voel. Maar met hierdie skoolonderneming het dit nie fortuinlik gegaan nie en swaar dae het aangebreek totdat die moeder, gedagtig aan haar jeug agter die toonbank, die ingewing kry om 'n eie sake-onderneming te begin. J. C. van Rooy en Kie. het tot stand gekom en vyftig jaar gefloreer nadat dit die eerste paar jaar smoor gegaan het en die vensters by een geleentheid met swart teer besmeer is - wat 'n gawe advertensie geblyk het!

Toe Johannes van Rooy op 64-jange leeftyd heengegaan het, was vyf van sy kinders al getroud en die familie ekonomies stewig gevestig, en net so stewig in die Afrikaanse volkslewe ingeburger. Net een keer was daar weer groot nood: Die Tweede Vryheidsoorlog het uitgebreek en die Van Rooys was voor die voet rebelsgesind, soos die meeste Afrikaners van Noord-Kaapland.

Die gryse moeder wat Vlaming was, maar Afrikaner geword het, en haar kinders het van die geleentheid gebruik gemaak om Duitse Mausers aan die Boere te verkoop. Die oudste broer, Henri, was kniediep in die moeilikheid met die Britse bewindhebbers; Charl is in hegtenis geneem en in die tronk gestop; Jan moes voor die oë van sy moeder van die tronk na die hof marsjeer; Izak moes later met sy moeder en jonger susters na Nederland uitwyk, terwyl Koos veldprediker by genl. Christiaan Beyers, 'n lewenslange intieme vriend, se kommando was.

Net een van die swaers, Paul Poisat, Fransman van geboorte, het nooit 'n tipiese Afrikaner geword nie, maar in die benoud oorlogsjare het hy J. C. van Rooy en Kie. "oorgeneem" en die familiesaak gered.

Kort voor haar dood in 1901 het die gryse moeder 'n laaste offer op die altaar van haar man se lewensideaal: Christelike onderwys gelê: sy het £1,000 geskenk ten bate van 'n koshuis vir die onderwysinrigtings op Steynsburg, waaruit later die Steynsburgse Opleidingskollege ontstaan het.

Die kinders van hierdie stoere egpaar het as rasegte Afrikallers diep spore in Suid-Afrika getrap: Henri het vooraanstaande boer geword; Charl was boer, sakeman, L.U.K. en later L.V.; Jan was boer, L.U.K. en later Senator; Izak het 'n vermoënde sakeman geword wie se linkerhand dikwels nie geweet het wat sy regter doen nie; en Koos was baie jare predikant van die Gereformeerde Kerk, op een tydstip L.P.R. hoofsaaklik in belang van die onderwys en het sy emeritaat as hoof van die Geref. Kerk se Administratiewe Buro aanvaar. Op 90-jarige leeftyd is oupa Koos vandag die oudste lewende predikant van die Geref. Kerk en die laaste skakel met 'n pragverlede.

Johannes van Rooy en Anne Holsters het aan Suid-Afrika 'n nageslag van bruikbare manne en vroue gelaat want ook die derde en vierde geslag "hou die tou styf", 'n geliefkoosde uitdrukking van wyle sen. Van Rooy.

van Rooy leiers
Op die saamgestelde foto verskyn drie Van Rooy-kleinseuns wat hulle as geestelike leiers besonder onderskei het:
Heel links is wyle prof. Joon van Rooy. Opgelei as teoloog het hy nogtans nooit in die bediening gestaan nie. Die destydse P.U.K vir C.H.O. het sy dienste uit die staanspoor opgeëis, as dosent, as registrateur en later as rektor.
In die middel verskyn prof. Willie Snyman, seun van Truitjie, die jongste van Rooy-dogter. Hy is tans aan die Teologiese Skool in Potchefstroom verbonde.
Heel regs verskyn prof. Dirk van Rooy, bekende wiskundige en tans waarnemende rektor van die Potchefstroomse Universiteit tydens die afwesigheid in die Verenigde State van prof. dr. J. Chris Coetzee. Hy is die oudste seun van ds. Koos van Rooy.

Die onderwys lok die hedendaagse Van Rooys nog steeds. Tot dusver was daar ses professore - met Van Rooy-bloed: wyle prof. Joon van Rooy, tweede rektor van die Potchefstroomse Universiteit en jare lank voorsitter van die F.A.K.; prof. D. J van Rooy, tans onder-rektor van die Potchefstroomse Universiteit; prof. dr. C. A. van Rooy, hoogleraar in Grieks, aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat; prof. W.J. Snyman, hoogleraar aan die Teologiese Skool in Potchefstoom; prof. dr. D.J. du Plessis, professor in skeikunde aan die P.U.; en prof. dr. P. H. Stoker, wat op kwalik 30-jarige leeftyd hoogleraar in fisika aan die P.U. geword het. Talle het onderwysers geword.

Dit spreek amper vanself dat uit hierdie familie 'n hele aantal predikante sou kom: tot dusver was daar al 'n stuk of tien.

HG Strijdom
Mev. Susan Strijdom, eggenote van die Eerste Minister Hans Strijdom, is die kleinkind van die eerste Van Rooy wat op Afrikaanse bodem gebore is, nl. wyle sen. Jan van Rooy.

Baie min Van Rooys is of was nie op een of ander tydstip kerkraadslid nie van of die Gereformeerde Kerk of die N.G. Kerk, want hoewel die Van Rooys oorwegend tot die Geref. Kerk behoort, is daar ook 'n hele aantal wat lid van die N.G. Kerk is.

Vir die politiek had die Van Rooys nogal tyd groot belangstelling aan die dag gelê en op die huidige tydstip het die familie weer twee verteenwoordigers by die hoë owerheid: min. Jan de Klerk en mev. Susan Strydom, eggenote van die Eerste Minister.

En die eerste jong Van Rooys het aan die einde van die negentiende eeu nie om dowe neute veetjies saam met hul vader bymekaar gemaak nie: daar is nog sommer 'n hele aantal voorboere onder die hedendaagse Van Rooys. Wyle sen. Van Rooy het trouens vir Suid-Afrika 'n nuwe skaapras ontwikkel: die bekende spierwit Van Rooy skaap, waarmee nog in Kaapland geboer word.

Eintlik is die Van Rooys van die derde, vierde en vyfde- geslag - die sesde geslag begin al hier en daar verskyn - nie van die Afrikaners van die sewentiende eeu te onderskei nie: hulle word in al die provinsies in alle beroepe en in alle vertakkinge van die volkslewe aangetref. Hier en daar is een wie se hare nou bietjie meer blond as die van die tipiese Afrikaner is, maar dit is ook al. Hulle ken nie meer Frans soos die stamouers en die eerste Afrikaanse Van Rooys nie, maar anders as die meeste ander Afrikaanse families het ook nog nie een Engelssprekend geword nie.

→ terug na byeenkomste