Byeenkomste
Saamtrek te Nylstroom, 22-24 Augustus 2008

Die stamouers van die Van Rooy-familie in Suid-Afrika, Johannes Cornelis van Rooy en Anne Francoise gebore Holsters, het op 26 Januarie 1858 voet aan wal gesit in Port Elizabeth. 'n Saamtrek is in Nylstroom (Modimolle) gehou om die 150 jaar van die familie in Suid-Afrika te herdenk. Nellie van Rooy (b7c3d1e1) het die leiding geneem met die reël van hierdie saamtrek. Meer as 100 familielede het die saamtrek bygewoon.
Die Vrydagaand het die vroeë feesgangers reeds om die braaivleisvure nader kennis gemaak. Die Saterdagoggend het die res van die feesgangers opgedaag. Die amptelike program het om 11vm begin. Dirk van Rooy (b7c3d1e1) was die seremoniemeester. Kobie van Rooy (b7c3d4e3) het die opening waargeneem met skriflesing en gebed. Pieter van Rooy (b7c3d3e2) het die verlede, hede en toekoms van die familie kort en kragtig voorgehou. Koos van Rooy (b7c7d1), wat ook by die 1989 saamtrek aan die woord was, het op die geskiedenis verder uitgebrei. Hierna is daar geleentheid gegee aan die senior familielede om staaltjies uit die verlede te vertel. Dirk van Rooy (b7c3d3), Lucia van den Berg (b2c12d1, gebore van Rooy), Marius Coetzee (b3c9d2) en Frieda van Wyk (gebore van Rooy, b2c12d3) se stories is baie geniet deur jonk en oud. Marga van Rooy (getroude van: Boot, b6c7d1) is seker een van die bekendste van Rooys in die land as gevolg van haar optrede in verskeie televisie produksies. Sy het met passie die storie "Ter wille van 'n orrel" deur PH Nortjé opgevoer. Die storie handel oor die ouderlinge en diakens wat teen mekaar rugby speel om fondse in te samel vir die orrel. Natuurlik het almal haar optrede baie geniet. Jan van Rooy het die program afgesluit met 'n vertelling oor die boekstawing van die geskiedenis asook geslagregister van die Van Rooys en hoe dit vandag algemeen toegangklik is op die web.
Die Saterdagaand is saam vleis gebraai en sommer lekker gekuier. Sondagoggend het Herrie van Rooy (b7c3d1e2) die erediens gelei. Die saamtrek is afgesluit met middagete in die vakansieoord se restaurant. Die saamtrek was 'n groot sukses en dit was heerlik om die familie van nader te leer ken.
Saamtrek te Steynsburg, 9-11 April 1993
Die komitee wat tydens die Pretoria familiebyeenkoms benoem was om vir verdere byeenkomste te sorg het hierdie geslaagde byeenkoms in Steynsburg gereël. Die komitee het bestaan uit Bertus van Rooy (b7c3d1), Lucia van den Berg (b2c12d1), Hannes van Rooy (b3c6d3), Jeanette van Rooy (b6c5d1) en Nellie van Rooy (b7c3d1e1). Die komitee is bygestaan deur Ben Aucamp, Andries du Plessis en mev. C. Steyn (burgermeester van Steynsburg) wat die die plaaslike reëlings in Steynsburg behartig het.
Paul Kruger Hoërskool het hulle koshuis beskikbaar gestel vir verblyf. Die Vrydagaand het die fees 'n aanvang geneem met die vertelling van familiestaaltjies. Saterdagoggend is die feesembleem onthul en dit is gevolg deur 'n formele middagete in die stadsaal waartydens alle teenwoordiges amptelik verwelkom is. Die middag is besoek afgelê in die begrafplaas waar daar etlike grafte is van die vroeë nageslagte, o.a. die van die stamouers Johannes Cornelis van Rooy en Anne (gebore Holsters). Saterdagaand is konsert gehou. Sondag 11 April 1993 is die fees afgesluit met 'n erediens in die Gereformeerde Kerk Steynsburg.
Familiebyeenkoms te Pretoria, 2 September 1989
Deur A.J. van Rooy soos gepubliseer in die boek “Die familie van Rooy in Suid-Afrika”
Op 30 Desember 1988 het twee broers Van Rooy, die 26-jarige Willem Izak (b6c5d1e1) en die 22-jarige Stefan (b6c5d1e3) op die gholfbaan Zwartkop, Verwoerdburg 'n potjie gholf gaan speel. Meteens het 'n weerligstraal hulle getref. Willem is bewusteloos na die HF Verwoerdhospitaal geneem maar Stefan was op slag dood.
Bertus (b7c3d1) en sy seun Dirk (b7c3d1e1) het sy weduwee-moeder, Jeanette gaan opsoek om hulle meegevoel te betuig. Hulle het haar vertel dat baie telefoonoproepe van familielede ontvang is om te verneem presies wie die seun is wat so plotseling heengegaan het. Jeanette het vertel dat hulle gesin nog nie veel kontak met die familie Van Rooy gehad het nie en dat sy graag van hulle wou ontmoet. Daar is dadelik besluit dat dit nou weer tyd geword het om soveel moontlik van die familie byeen te kry en daar is op Saterdag 2 September 1989 as 'n geskikte datum besluit. Aangesien daar dertig jaar vantevore laas 'n sodanige saamtrek gehou is, is besluit om by Willem de Klerk (b3c2d1e1) advies te vra omdat hy 'n professor in Kommunikasiekunde was. Willem het toe van harte die idee gesteun dat 'n Van Rooy-fees gehou word. Om van so 'n ding 'n sukses te maak, vra baie goeie beplanning, deurlopende werwing vir bywoning en ontwerp van die program vir die dag. Die organiseerders sou 'n sterk infrastruktuur moes hê vir administrasie. "Ek stel voor dat jy 'n komitee benoem van 'n driestuks van die jonger Van Rooy's. Hulle moet eers met FW 'n datum uitklaar, dan finale omsendbriewe en antwoordvorms pos."
Daar is toe besluit om 'n komitee van vyf te benoem, een uit die geslag van elk van die eerste vyf broers Van Rooy. Die komitee is soos volg saamgestel:
Henri: Nellie van Rooy (b1c7d3e2) Charles: Frieda van Wyk (b2c12d3) Jan: Hannes van Rooy (b3c6d3) Izak: Jeanette van Rooy (b6c5d1) Koos: Bertus van Rooy (b7c3d1)
Bertus is as voorsitter aangewys, Jeanette as sekretaresse en Hannes as penningmeester. Dit het spoedig geblyk dat Jeanette baie ondervinding van die reëling van sodanige funksies het. Op haar voorstel is die terrein van die Tegniese Kollege, Pretoria-Wes vir die saamtrek uitgekies. Kennisgewings is uitgestuur.
Intussen is FW de Klerk (b3c2d1e2) as waarnemende staatspresident aangewys en is 'n algemene verkiesing vir die Woensdag na die Van Rooy-fees uitgeskryf. Desnieteenstaande is besluit om met die verrigtinge voort te gaan.
Daan van Wyk het die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen. Sy eggenote, Frieda (b2c12d3) het die sang gelei. Koos van Rooy (b7c7d1) het die vroeë familiegeskiedenis in die omgewing van 's Hertogenbosch, Brabant, Nederland, vertel, dinge waarvan die ongeveer driehonderd familielede teenwoordig nog nooit vantevore gehoor het nie.
Aangesien Mossie van den Berg (b2c12d1) met die familiebyeenkoms te Potchefstroom 'n bietjie meer as dertig jaar vantevore die woord gevoer het, het hy nou weer die geleentheid gekry en wel om `n heildronk op die wederhelftes van die kleinkinders van die grootouers in te stel. Gelukkig kon verskeie van hulle teenwoordig wees. Hy het op `n luimige manier vertel waarteen sy aanstaande skoonvader hom alles gewaarsku het voordat hy homself in die familie Van Rooy ingetrou het.
Daarna het FW de Klerk aan die woord gekom om 'n heildronk op die oorlewende kleinkinders in te stel. Hy het vir Mossie gerus gestel dat die gedragskode darem nie altyd streng toegepas is nie. Verwysende na die feit dat Mossie self die eerskomende Woensdag 'n kandidaat vir die parlement sou wees, het hy gevra dat ons nooit mekaar se trou en vaderlandsliefde sal betwyfel nie. Vir FW was dit darem te lank om dertig jaar te wag vir die volgende byeenkoms. Hy het gevra dat daar nooit meer as tien jaar tussenin sal verstryk nie.
Nadat Herman van Rooy (b2c7d2e1) vir die nodige bedankings gesorg het en opnuut saam gesing is, is vleis gebraai, geëet, gedrink en heerlik gekuier.
Voortspruitend uit hierdie eendaagse byeenkoms het die volgende duidelik geword:
- In die vervolg moet minstens een keer elke tien jaar 'n landwye familiesaamtrek gehou word.
- 'n Familiegeskiedenis moet opgestel word waarin 'n opsomming van die boek:
JC van Rooy - AF Holsters, 1936 opgeneem sal word - 'n Geslagsregister moet as deel daarvan gepubliseer word.
Die komitee wat die byeenkoms georganiseer het, het besluit om voort te gaan om bostaande sake af te handel waar moontlik. Om die nodige kontinuiteit te verseker, sal vakatures wat in die komitee mag ontstaan, deur hulleself aangevul word.
Lees gerus ook die artikel in Die Kerkblad van 8 November 1989.
Familiefees te Potchefstroom, 28 Julie 1958
Deur A.J. van Rooy soos gepubliseer in die boek “Die familie van Rooy in Suid-Afrika”
Toe Jacobus Albertus (Koos) van Rooy (b7) sewentig jaar oud geword het, het sy kinders en kleinkinders saam met hom op Ventersburg waar sy seun, ds. Jacs van Rooy (b7c7) predikant was, feesgevier. Toe hy tagtig jaar oud geword het, het die kinders en kleinkinders weer saam met hom byeengekom, hierdie keer te Hartebeespoortdam waar sy dogter Klara (b7c4) hoof van die huishoudskool was. Dit was ook vir hom 'n besondere blydskap om sy eerste agterkleinkind, Dirk (b7c3d1e1) die eerste keer te aanskou.
Aangesien Koos op 9 Augustus 1958 negentig jaar sou word, het ongeveer driehonderd familielede op 28 Julie 1958 op die terrein van die PU vir CHO, Potchefstroom saamgetrek. Terselfdertyd is aan die koms van die egpaar Johannes Cornelis van Rooy en Anne Francoise Holsters honderd jaar vantevore gedink. Briewe en telegramme is ontvang van onder andere mevrou Susan Strijdom, eggenote van Eerste Minister Hans Strijdom wat toe ernstig siek in die hospitaal in Kaapstad was, van die rektor, professor J.C. Coetzee wat toe saam met sy eggenote Lettie (b2c10) op 'n amptelike besoek aan New York in die VSA was, en sy seun Martinus (b7c9), hoof van die Weerkundige Diens, wat op 'n amptelike besoek in Moskou was.
Die voorsitter van die reëlingskomittee, professor Dirk van Rooy (b7c3) en die sekretaris, Gerard (b7c3d4) het gesorg dat die byeenkoms so informeel verloop het dat daar goed gekuier en baie gesels kon word.
Die Vrydagaand is daar 'n familiekonsert onder leiding van Jeanette Snyman (b10c1d2) gehou. Saterdagoggend het professor Willem Snyman (b10c1) die familiegodsdiensoefening met 'n treffende rede gelei: "Bewaar jou goeie pand" (2 Tim 1:14). Die jubilaris het die familielede, van die eerbiedwaardige oupas en oumas tot die "allerliefste babatjies" toegespreek en het almal bedank vir hulle teenwoordigheid. Daarna het hy met 'n treffende geheuevertoning die gehoor op 'n roerende verbeeldingsvlug na familiebakens oor die lengte en die breedte van die land geneem.
'n Telegram van meegevoel is aan neef Hans Strijdom gestuur (op 24 Augustus 1958 is hy oorlede).
Saterdagmiddag tydens die familiefeesmaal is deur neef Attie Pienaar (b1c6d2) 'n heildronk op die familie Van Rooy ingestel en daarna deur minister Jan de Klerk (b3c2d1) op ds. Van Rooy, die patriarg van die familie. Hy het in ds. Van Rooy meer gesien as 'n mens, hy het hom as 'n simbool gesien. Soos Paul Kruger 'n simbool van Suid-Afrika se nasionale aspirasies was, so was ds. Van Rooy vir hom 'n simbool van godsvrug, van arbeidsaamheid in belang van land en volk, van offervaardigheid en nederigheid.
Lees gerus ook die artikel in die Huisgenoot van 25 Julie 1958.
Tagtigste verjaarsdag van Jan (b3) te Kroonstad, 23 Julie 1939


Heel bo: Koos (c8d2), Etta (c6d2), Jan (c8d1), Nic Roets, Smit (c3d4), Hendrik de Klerk (c2d7), Jannie (c1d2),
Tweede ry van bo: Lourina geb. Muller, Aletta Snyman (c4d2), Anna (c1d1), Jannie Snyman (c4d3), Lia (c6d1),
Derde ry van bo: Heléne (c7d2), Lodewicus (c7), Jan Coetzee, Maria van der Merwe geb. de Klerk (c2d2),
Sittende: Annie Snyman (c4), Magteld geb. Myburgh, Jan (c1), Annie de Klerk geb. Coetsee,
Deur A.J. van Rooy soos gepubliseer in die boek “Die familie van Rooy in Suid-Afrika”
Izak (b3c6), die plaaslike skoolraadsekretaris, het hierdie feestelike byeenkoms georganiseer op die terrein van een van die Kroonstadse skole. Byna die hele nageslag van Jan was teenwoordig en ook sy vier broers, Henri byna 84 jaar oud, Charles 82 jaar, Izak 74 en Koos 71 jaar.
Die eerste aand met huisgodsdiens het Koos opgemerk dat drie van hulle reeds die jare van die seer sterkes oorleef het. Die oudste broer, Henri, het die gelukwense oorgebring. Nadat die Saterdagaand met Afrikaanse liedjies omgesing is, is die dag se verrigtinge op Jan se versoek met die sing van Die Stem van Suid-Afrika afgesluit.
Sondagoggend is 'n adres deur almal onderteken, deur sy oudste seun, Jan (b3c1) aan sy vader oorhandig. Sy kunstenaarseun, Jannie (b3c1d2) het 'n pragtige lewensgroot skets deur homself geteken, aan sy grootvader oorhandig. Ds. Willem de Klerk (b3c2), 'n skoonseun, het om 10:15 die diens in die skoolsaal gelei met Jesaja 46:4 as teks: " ... tot die ouderdom toe is Ek dieselfde, ja tot die grysheid toe sal Ek julle dra."
Reeds vroeg die oggend het adv. en mev. C.R. Swart opgedaag om die jubilaris geluk te wens.
Gedurende die middagmaal het die oudste kleinseun, Jan de Klerk (b3c2d1) hulle grootvader se spaarsaamheid aan die kleinkinders as voorbeeld voorgedra. Hans Strijdom (b3c2d5), die LV vir Waterberg, het namens die aangetroude familie melding gemaak van die eerbaarheid van die geslag Van Rooy. Die senator se erns, gekoppel aan sy humorsin, is treffend in die nageslag oorgeplant.
Lees gerus ook die artikel in Die Transvaler van 28 Julie 1939.