Die Familie Van Rooy

DIE TRANSVALER, VRYDAG 28 JULIE 1939

VAN ROOY-FEES OP KROONSTAD
80-Jarige Senator Treffend Gehuldig

Die feesviering van afstammelinge van sen. J.C. van Rooy, wat oor die naweek op Kroonstad gehou is, sal nie gou deur die aanwesiges vergeet word nie. Dit was 'n unieke gebeurtenis, 'n gedenkwaardige dag. Sondag 23 Julie 1939 was sen. Van Rooy se 80e verjaarsdag, en ook in hierdie jaar het hy sy land nog vir laas as Senator gedien.

Die doel van die fees was ook om die hele familie byeen te bring en die vader van 75 kinders en kleinkinders hartlik geluk te wens met sy geboortedag.

Vanuit Kaapstad tot Nylstroom het die familie getrek en alleen enkeles was afwesig weens onvermydelike omstandighede. Deur die reëlings van mnr. en mev. Izak van Rooy (Kroonstad), bygestaan deur die reëlingskomitee en die goedgesindheid van die skoolkommissie, wat die koshuis tot beskikking gestel het van die groot familie, was die groot sukses moontlik.

Hartroerend was dit om sen. Van Rooy se vier broers wat om hul oudag nie die moeite ontsien het om ook teenwoordig te wees nie, te sien. Dit gebeur nie maklik dat vyf broers so 'n hoë ouderdom behaal nie. Die twee oorlewende susters was ongelukkig verhinder om teenwoordig te wees. Dit is twintig jaar gelede dat hulle mekaar laas gesien het. Die oudste broer, oom Harrie, sal hierdie jaar 84 jaar wees, oom Sarel 82, oom Jan 80, oom Izak 74 en oom Koos 71 jaar.

DIE FEES

Op tradisonele wyse is die tafelgodsdiens gehandhaaf en op egte boerewyse is die aandgodsdiens waargeneem deur ds. J. A. van Rooy, van Potchefstroom, 'n broer van sen. Van Rooy. Hy het ook die aandag gevestig op die feit dat drie van die vyf broers reeds die jare van seer sterkes, volgens die Bybel, oorleef het.

Die feesviering het begin deur die familie se gelukwensinge oor te bring aan mnr. J. C. de Klerk as oudste kleinkind, onderwyser op Primrose-skool, Germiston, wat Saterdag sy geboortedag gevier het. Hy was toe 36 jaar. Dit is 'n ander seldsame gebeurtenis dat sen. Van Rooy 44 jaar oud was toe hy oupa geword het. Oom Harrie, het as as oudste broer, hul gelukwensinge op waardige wyse oorgedra. Hy het God lof toegebring dat Hy hulle so ryklik geseën het, trots die moeilike stryd wat hulle beleef het. As voorbeeld van hierdie leiding is interessante staaltjies uit hulle lewe meegedeel.

Saterdagaand is gesellig deurgebring deur die sing van Afrikaanse liedjies en op versoek van sen. Van Rooy het almal saam Die Stem gesing. Weereens is die familiebande vasgeknoop en almal het ook van die aand gebruik gemaak om met elkeen 'n woordjie te gesels.

Sondagoggend kort na sonop was die feesgangers alweer in klompies op die terrein geskaar en omstreeks 10-uur het adv. en mev. C. R. Swart ook hul verskyning gemaak om sen. Van Rooy geluk te wens.

GELUKWENSINGS

Met teetyd is sen. en mev. Van Rooy deur die teenwoordiges toegesing Ps. 134 verse 1 en 3. Hierna het die gelukwensings gevolg toe die kinders en kleinkinders volgens ouderdom tot die ouerpaar aangetree het. Die eie kinders het elkeen 'n portret van hul vader en moeder ontvang.

Op gebruiklike wyse is oorgegaan tot die godsdiensoefening om 10:15 vm. in die skoolsaal, waar ds. W. J. de Klerk, 'n skoonseun (Brixton), die diens waargeneem het. Na aanleiding van Jes. 46 vers 4 het 'n kragtige woord tot die aanwesiges gerig en daarop gewys hoe 'n heerlike en seldsame geleentheid hierdie samekoms is. Hy het ook daarop gewys dat hulle geliefde vader en oupa nog hierdie geleende lewensdae van die Here ons God ontvang. Dit is voorwaar 'n dag waarna almal reikhalsend uitgesien het.

In die Van Rooy-broers se lewe word bewaarheid die belofte: "Tot die ouderdom is Ek dieselfde, tot die gryse sal Ek julle dra." Hoewel nou reeds oud en afgeleef, kan hulle met dankbaarheid jeens God terugkyk op die verlede en sy belofte staan nog: "Ek sal dra, Ek sal opneem, Ek sal red."

EERBAAR

Die middagmaal is geniet deur jonk en oud. Kort toesprakies is gelewer. Namens die kinders het mnr. J. van Rooy (Gumtree) gewag gemaak van die besadigde optrede van hul vader. Min was hy in sy lewe deur iets dronk geslaan. Hy het egter aangehaal van 'n geval waar sen. Van Rooy werklik darem dronk geslaan was. Hy was as kind in die veld en het sterk tabak gerook met die gevolg dat sy ouers 'n soektog op tou moes sit om na hom te soek. Hulle het hom vas aan die slaap in die brandende son van die somerdag aangetref. Hy was dus een keer in sy lewe dronkgeslaan.

Namens die kleinkinders het mnr. J. C. de Klerk as oudste kleinkind, hul oupa se spaarsaamheid gewys en dit as voorbeeld vir die kleinkinders voorgehou.

Op gepaste wyse het adv. G. Strydom, L.V. vir Waterberg, namens die aangetroude familie melding gemaak van die eerbaarheid van die Van Rooy-geslag en gesê dat dit vir die skoonfamilie nie nodig was om nuwe lewe in die nasate van sen. Van Rooy in te blaas nie. Verder is aangehaal van die Senator se erns wat onafskeidelik verbonde is aan sy humorsin, waarmee dit altyd gepaard gaan en wat in die nageslag so treffend oorgeplant is.

ADRES AANGEBIED

'n Adres is deur die oudste seun, mnr. J. van Rooy (Brixton) aangebied wat deur oud en jonk onderteken is. 'n Verjaardaggeskenk in die vorm van 'n draadloostoestel is deur die jongste dogter, Martha aangebied.

Sen. Van Rooy het sy gade en familie bedank vir die opoffering en moeite wat hulle in verband met die fees getroos het en veral gewag gemaak op die eerbied wat hy en sy gade van almal ontvang het.

Sondagmiddag om 3:30 nm. is die lede van die skoolkommissie op tee onthaal waarna hulle bedank is vir die welwillende tegemoetkoming ten opsigte van die vergaderplek, waarsonder die fees 'n onmoontlikheid sou wees.

Treffend van hierdie feeslikheid is die godsdienssin en nasieliefde wat so spontaan geopenbaar is. In gesprek met die waardige Van Rooy-vaders is meegedeel dat hierdie godsdienssin die stukrag was wat die familie aangespoor het om hul gewig by die Afrikanersaak in te gooi.

Van die vyf broers was oom Harrie 'n voortreflike boer, oom Izak en oom Sarel suksesvolle sakemanne, welbekend in Steynsburg en Bethulie. Oom Sarel staan ook bekend vir die rol wat hy gespeel het in die stryd vir Afrikaans as taal en in onderwyssake as lid van die ou Afrikanerbond. Hy was ook lid van die Uitvoerende Komitee van die Kaaplandse Provinsiale Raad, en oud-L.V. vir die kiesafdeling Albert.

Oom Koos het die leraarsloopbaan gevolg en is tans nog werksaam in die Administratiewe Buro van die Geref. Kerk op Potchefstroom. Sen. J. C. van Rooy, algemeen bekend as oom Jan, het ook sy lot ingegooi by die Afrikanersaak. Van skaapwagter en later transportryer, het hy onderwyser geword. Daarna het hy hom aan die boerdery gewy en is hy gekies tot lid van die Vrystaatse Provinsiale Raad en later tot lid van die Uitvoerende Komitee. Tien jaar gelede is hy deur genl. J. B. M. Hertzog genader om in die Senaat te dien, die tuig wat hy in September gaan aflê.

VYF BEJAARDE VOLKSVRIENDE

Met die van Rooy-familiefees wat so pas op Kroonstad gehou is, was hierdie vyf bejaarde broers almal teenwoordig:
Staande van L na R is mnr. W. I. van Rooy (74) en ds. J. A. van Rooy (71)
Voor sittende: mnr. A. C. A. van Rooy (82), mnr. H. C. van Rooy (84) en sen. J. C. van Rooy (80).

→ terug na die tagtigste verjaarsdag van sen. J. C. van Rooy