Van Rooy, Johannes Cornelis
Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek
Deel IV, bladsy 750
Eerste uitgawe, 1981
Uitgegee vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing deur Tafelberg-Uitgewers Bpk.
Die geboortedatums van Johannes Cornelis en Anna Francina Holsters is reggestel - Jan van Rooy
Van Rooy, Johannes Cornelis (* Hertogenbosch, Ned., 2.11.1824 - † Steynsburg, 24.1.1889), kerkman, onderwyser en sakeman, was die jongste kind van Hendrik van Rooy en sy vrou, Clara Keufers, albei Rooms-Katolieke. Hy is op 21.3.1855 getroud met Anna Francina Holsters (Brussel, 31.12.1834 - Steynsburg, 28.8.1904), dogter van Vlaamse ouers, Charles Holsters en Petronella de Gilter. Uit die huwelik is vyf seuns en vyf dogters gebore (die eerste seun in Nederland, die tweede seun op see, die ander almal in Suid-Afrika). Johannes van Rooy het op 24.10.1857 per seilboot, die Karel August, na Suid-Afrika verhuis waar hy op 26.1.1858 by Port Elizabeth aan wal gestap het. Die gesin het hul in Noordoos-Kaapland gevestig en die voorouers van die talryke Van Rooys in Suid-Afrika geword.
Onder die invloed van 'n onderwyser met die naam van Quik, en 'n predikant, H. van Andel, het Johannes van Rooy Protestant geword. Hy is in Nederland opgelei as onderwyser en was in Suid-Afrika sewentien jaar lank rondgaande onderwyser aan plaasskole in Colesberg, Venterstad, Burgersdorp, Cradock, Middelburg en Steynsburg - gewoonlik vir ses maande op 'n plek, soms van een tot twee jaar. Hy kon Nederlands en Frans vlot praat en sy Engels was goed. Hy het vroeg reeds aan swak gesondheid gely en hom eindelik op Steynsburg gevestig, waar hy eers onderwyser was en later sakeman.
Na sy dood het iemand van horn gesê: 'Naar het lichaam zwak, naar de ziel wel'. Hy was een van die onderwysers wat hom daarvoor beywer het dat daar van kerklike weë sterker ondersteuning moet kom vir die voortbestaan en uitbreiding van die gereformeerde opvatting van die onderwys.
Onder sy nakomelinge wat op talle terreine gepresteer het, is bekendes soos sy kleinseun, prof. J.C. van Rooy*, Afrikaanse kultuurleier en eerste rektor van die selfstandige Potchefstroomse Universiteit vir CHO, en die voormalige minister en President van die Senaat, mnr. Jan de Klerk.
J. CHRIS COETZEE
D.G. VENTER, Gedenkboek. Die Gereformeerde Kerk van Steynsburg, K.P. Steynsburg, s.j.
B. SPOELSTRA, Die Doppers in Suid-Afrika 1760-1899. Kstd., 1963
Private inligting: Herinneringe van A.C.A. van Rooy, opgeteken deur prof. J. Chr. Coetzee, 1944.