Familie van Rooy

Die vroeë Van Rooy geskiedenis

GKSA Argief
Johannes van Rooij
vergroot
Johannes Cornelis van Rooy
GKSA Argief
Anne Holsters
vergroot
Anne Françoise Holsters

En waar kry ons die van?

(b7) Koos van Rooy se boekie van 1936 oor die geskiedenis van die stamouers, Johannes Cornelis van Rooij en Anne Françoise Holsters.
In die plakboek van (b1) Henri van Rooy is 'n geslagregister wat in 1930 begin is.
Geslagregister deur (b2) Charles van Rooy

Ons Nederlandse voorgeslagte het in die vroeë 18de eeu die patronieme Willems, Wilhelmi of die amp Kosters as van gebruik. 'n Dennenburgse dokument van 1718 is deur Cornelis Willems van Roij onderteken. Cornelis is die oudste van ons Nederlandse voorgeslagte waarvan ons kennis dra. Ongeveer 1740 verander die van na van Rooij. Daar is etlike families wat in Nederland, en veral in die provinsie Noord-Brabant, wie van Rooij as van gekies het.

Volgens die 1904 sterfkennis van ons stammoeder, Anne Françoise, het van Rooij alreeds verander na van Rooy.

Die stamouers

Johannes Cornelis, seun van Hendricus (Hendrik) van Rooij en Clara Kuijpers, is op 2 November 1824 te Huisseling in die provinsie Noord-Brabant, Nederland gebore. Sy oupa was Michaël van Rooij en ouma Adriana Bosch.

Johannes van Rooij se broers was Michaël en Joannes Nicolaas. Johannes Nicolaas was die jongste van die kinders en het net 38 dae oud geword. Sy susters was Johanna, Adriana, Maria Elizabeth, Maria Petronella en Anna Maria. 

Johannes was maar net twee jaar oud toe sy  pa, Hendrik van Rooij,  in 1827 in Herpen oorlede is. Die gesin het in Overlangel by Johannes se ma, Clara Kuijpers, se familie gaan woon. In 1835 erf Clara 'n huis in Overlangel van haar ouers. Johannes het sy kinderjare in Herpen en/of Overlangel deurgebring.

Johannes het as agtienjarige begin met opleiding as onderwyser by heer Matteus Quik in die nabygeleë Ravenstein. Heer Quik was 'n gereformeerdgesinde Hervormer tot ontsteltenis van die familie. Johannes was beïndruk met sy skriftuurlike godsdiensonderrig. Hy begin stilletjies die Bybel self lees en verander stadig maar seker van geloofsoortuiging van Rooms-Katoliek na protestant.

Johannes was vir ongeveer ses jaar 'n leerling en hulponderwyser in die omgewing van Ravenstein. Hy het saam met sy familie die Roomse kerkdiens bygewoon. Op 'n dag kon hy dit net nie meer hanteer nie en het hy hom openlik uitgespreek teen die leer van Maria se onbevlekte ontvangenis, teen haar verering en ander Roomse leerstellings. Sy moeder en susters was diep bedroef. Sy broer Michaël was woedend en het hom die huis belet. Later is selfs toegang tot sy sterwende moeder geweier.

Johannes was 'n hulponderwyser in Den Haag en Rotterdam. Hy het uit oortuiging by die Christelike Gereformeerdes aangesluit. In 1853 het hy na Brussel verhuis waar hy in Nederlands skool gegee het. Hy het die Franse taal in 'n kort tyd redelik bemeester. As lidmaat van die Vlaamsche Evangelische Gemeente het hy saans evangelisasie gedoen.

Johannes trou met die naam Jean Corneille met Anne Françoise Holsters, dogter van Charles Holsters en Petronille de Gieter in Brussel. Die Holsters se huistaal was Frans. Ons stammoeder se ma, Petronille de Gieter, was voorheen met Judocus Josephus (Josse Joseph) Trullemans getroud. Josse Trullemans is in 1830 oorlede.  Charles Holsters en Petronille de Gieter het agt kinders gehad. Hulle eerste kind, Charles, is op die ouderdom van 15 jaar oorlede. Ons stammoeder, Anne Francoise, was hulle tweede kind. Die ander kinders was Pauline Constance, Marie, Barbe Josephine, Félicité, Gustave Charles en Simon Pierre.

Die skool in Brussel se finansiële probleme het tot gevolg dat Johannes en Anne na sy geboorteland terugkeer. Johannes word onderwyser aan die "besondere" of Christelike skool in 's Hertogenbosch, Nederland. Hulle eerste kind, Henri Charles van Rooij, word hier op 22 Desember 1855 gebore.

neem die groot besluit om gehoor te gee aan 'n oproep uit Suid-Afrika vir Christelike onderwysers vir die stamverwante Boere. Op 24 Oktober 1857 vertrek Johannes, Anne en hulle tweejarige seuntjie Henri vanaf Rotterdam aan boord van die seilskip Karel August na Suid-Afrika. Twee maande later is die tweede seun, Antoine Charles Auguste (Charles), ter see gebore. Die gesin sit op 26 Januarie 1858 te Port Elizabeth voet aan wal.

Van Port Elizabeth is daar per wa na Hantam (Colesberg) gereis. Johannes gee onderwys op plaasskole in die distrikte Burgersdorp, Colesberg, Cradock en Middelburg. Die derde seun, Johannes Cornelis (Jan) , word op Weltevreden gebore. Twee dogters, Claartjie en Annie, word by die gesin gevoeg.

In 1874 het ds. M.P.A Coetzee predikant van die Gereformeerde Kerk Steynsburg geword. Die ambisieuse jong predikant gee uitvoering aan 'n sinodebesluit van 1873 deur 'n Christelike skool op Steynsburg daar te stel. Johannes van Rooy was genader om onderwyser van hierdie nuwe skool te word. Die skool is in 1875 geopen met een onderwyser en honderd leerlinge van verskillende ouderdomme! Teen die einde van 1875 was dit duidelik dat hierdie poging nie suksesvol was nie as gevolg van gebrek aan fondse en die skool is noodgedwonge gesluit.

Elmarie v/d Merwe
van rooy winkel
vergroot
van Rooy winkel in Steynsburg

Op 47-jarige ouderdom begin Anne met 'n winkel J.C. van Rooy & Kie om die inkomste aan te vul. Gelukkig was dit nie vreemd vir haar nie want sy het in haar jong dae in Brussel in haar familie se winkel gewerk. Die winkel maak sy deure op 2 Januarie 1882 oop en is spoedig 'n groot sukses. In 1886 het Charles, wat reeds 'n ervare sakeman was, die geledere versterk. Izak het die boekhouding van die besigheid behartig. Toe Annie in 1884 getroud is, kon haar moeder Anne weer haar volle aandag gee aan die huishouding asook aan haar eggenoot, Johannes wie se gesondheid baie agteruit gegaan het. Die stamvader Johannes Cornelis is op 24 Januarie 1889 te Steynsburg oorlede.

Elmarie v/d Merwe
Anne en kinders
vergroot
Clara, Anne, Izak en Frederica

'n Dag na Johannes se begrafnis is 'n brief van hulle tante uit Europa ontvang. Op haar uitnodiging vertrek Anne en haar seun Izak asook dogters Clara en Frederica na België. Die familie ontvangs was in die ouerlike woning in Brussel. Anne het haar suster Felicie Poisat in Bordeaux, Frankryk besoek. Sy het haar dogter Frederica aan die 87-jarige mevrou Frederica Quik voorgestel, die goeie vriendin na wie sy vernoem is. Na hulle terugkeer uit Europa was daar met nuwe ywer aandag aan die besigheid gegee. Wildsvelle en -horings is van die Boere in Angola ingevoer en verkoop. Die Vrystaters is van mausers voorsien.

Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het die Britse magte op die winkel beslag gelê. Anne en haar seuns Charles en Izak en sy gesin asook Frederica en haar gesin het na Holland uitgewyk. Al die handelsdokumente, wat die familie in gedrang kon bring, word in die see gegooi. Met Anne hulle se tuiskoms uit Europa was amper die hele van Rooy familie weer bymekaar in Steynsburg.

Na die oorlog het die belangstelling in Christelik-nasionale onderwys herleef en is onder leiding van die jongste skoonseun, ds. Philippus Christoffel Snyman, opnuut 'n vrye Christelike skool te Steynburg daar gestel..

Anne Françoise van Rooy, gebore Holsters, is op 28.8.1904 te Steynburg oorlede. Die volgende dag het die aantal kleinkinders met 'n derde tweelingpaar toegeneem.


Sien gerus ook:

Nederlandse Familienamendatabank
Rooij, van (y)

Talrijk zijn de plaatsnamen met het bestanddeel -rode of -rooij die aan de basis van deze familienaam gelegen kunnen hebben, onder meer St. Oedenrode (Noord-Brabant), Stramproy (Limburg) en Nistelrode (Noord-Brabant). In de nabije omgeving van deze plaatsen, waar de genese heeft plaatsgevonden, stonden deze plaatsen eenvoudig bekend als 'Rooij'. Bij St. Oedenrode is dit mogelijk duidelijker het geval geweest dan bij Nistelrode, wat men kan afleiden uit het ontbreken van de familienaam Van Oedenrode e.d., terwijl de naam Van Nistelrooij en diverse varianten wel voorkomen. Het bestanddeel -rode/-rooij (regionaal ook: -rade/-raaij) in toponiemen herinnert aan het rooien van bos om het land in cultuur te brengen en er een nederzetting te stichten.