Familie van Rooy

Die vroeë Van Rooy geskiedenis

Deur A.J. van Rooy soos gepubliseer in die boek "Die familie van Rooy in Suid-Afrika"

Die geboortedatum van Johannes Cornelis van Rooy is reggestel - Jan van Rooy

Sint-Oderode

Ongeveer in die jaar 700 n.c. het, volgens oorlewering, 'n Skotse (destyds Piktiese) prinses Oda tot die Christendom oorgegaan. Uit verset teen die huwelik wat haar vader vir haar wou reël, het sy saam met ‘n paar vriendinne na Taxandrië gevlug. Destyds was dit 'n woeste binneland, deesdae as Noord-Brabant bekend.

Die meisies het 'n stuk bos uitgeroei en hulle daar gevestig. Die terrein het mettertyd as Sente Ode Rode bekend gestaan, die rode van die heilige Oda. 'n Bos wat uitgeroei word, word gerooi, en die terrein wat so beskikbaar kom, staan as die rode of die rooi bekend.

Oda was tot so ‘n mate vir haar goeie dade bekend dat haar naam na haar afsterwe voortgeleef het. Haar graf het ‘n besondere bekoring vir pelgrims ingehou. Gerugte oor genesings by haar graf het legendes laat ontstaan. Teen die jaar 1100 n.c. is 'n klein kerkgebou op haar graf opgerig. In die veertiende eeu het 'n dorp daar verrys wat vandag nog as Sint-Oedenrode bekend staan.

Gedurende die sestiende eeu is hierdie dorp herhaaldelik deur storms getref. Binne die bestek van 45 jaar is dit ses keer verwoes en afgebrand, een keer selfs deur die berugte Maarten van Rossum en sy roofsugtige ridders. Die groot nood wat hierdeur ontstaan het, het veroorsaak dat die mense wat reeds spaarsaam geleef het, so suinig geword het dat hulle naderhand in die oë van sommige selfs gierig was. Nederlanders verkort graag 'n naam tot een lettergreep. So het Sint-Oedenrode spoedig Rode, Rooie of Rooy geword. Daarom het die mense wat daarvandaan kom, as Van Rooy bekend gestaan. Vandaar die familienaam.

Nadat Sint-Oedenrode eeue lank die nederige woonplek van enkele boere en klompemakers was, is daar onlangs die groot fabriek, Oda opgerig waar staalmeubels vervaardig word. Die ongeveer 8 000 inwoners van die dorp is oorwegend Rooms. In Vlaandere was daar selfs 'n kardinaal Van Rooy wat ook as Van Roey bekend gestaan het.

Die naam Van Rooy kom in die telefoongids van die naburige Eindhoven veelvuldig voor. Stel jy jouself in die stad as Van Rooy bekend, word jy met die opmerking "0 ja! Van Sint-Oedenrooije!" verwelkom.

Die stamouers

Johannes Cornelis van Rooy, die seun van Hendrik van Rooy en Clara Kuipers, is op 2 November 1824 te Huiseling naby 's Hertogenbosch, Brabant, gebore.

Die gesin was streng Rooms en het in die omgewing van 'n oorwegend Roomse stad gewoon. Die familie was van die gewone boerestand. Johannes was die jongste van sewe kinders: twee seuns en vyf dogters. Toe hy twee jaar oud was, is sy vader oorlede; die weduwee is met weinig aardse goedere agtergelaat. Sy susters het uitgespring om te verdien en sy broer, Machiel, het oor 'n eie boerderytjie beskik.

Johannes was van kindsbeen af innig vroom aangelê en is godsdienstig opgevoed. Hy het as koorknaap in die Roomse kerk gesing. Met trane oor sy wange het hy in die St Jans-katedraal voor die beeldegroep: die gekroonde moedermaagd met die gekroonde kindjie op haar skoot, gekniel en sy gebede geprewel. So het hy later self vertel. Hy het sy lewe lank van sing gehou; musiek was sy liefhebbery.

Leerlingonderwyser

Hierdie jongste seun was leergierig en wou graag onderwyser word. Naby hulle het 'n bekwame en geëerde hoofonderwyser gewoon wat leerlingonderwysers opgelei het, 'n gereformeerdgesinde Hervormer. Hieroor het die Roomse gesin Van Rooy ernstig nagedink, maar dit kon nie anders nie: Johannes moes die heer Quik se wetenskaplike onderrig ten volle benut, maar die onderwys uit die Bybel vermy.

Meneer Quik het later getuig hoedat hy genader is om 'n jong man van ruim agtien jaar, "een streng, regvaardig Romanist" op te neem om hom vir die onderwys te bekwaam. "Hij was droog en dor naar lichaam en ziel en 't ging moeijelik om er wat vlugs van te maken." Johannes is deur die hoofonderwyser se godsdienstige gesprekke met die leerlinge geboei en het met toenemende bewondering na hom geluister. Tuis het hy verneem hoe dom die gereformeerdes oor God en godsdiens sou wees. Hierdie man het egter met soveel kennis en beslistheid oor die verskillende godsdienste gepraat net as of hy hulle almal bestudeer het.

Meneer Quik het later vertel hoedat God beskik het dat Johannes se hart vir Hom sou oopgaan. Hierdie leerling-onderwyser het blykbaar goed geluister toe oor regverdigmaking deur die geloof gepraat is. Na skooltyd het hy sy hoof gevra: "Hoe kan u verklaar dat Abraham deur die geloof, sonder die werke, van sy sonde vrygespreek word? Twee lesse verder moes Abraham dan sy seun Isak, die dierbaarste wat hy gehad het, offer; dit moes tog werk gewees het."

Hierdie woorde moes deur die hoof se siel gegaan het; hy het gewaar dat dit 'n geloofsvraag was. Die Here het sy gebed om sy verstand te verlig, verhoor. In die lig kon hy verder verduidelik. 'n Uur later het die hele kaartehuis van ellendig verniste sonde in die modder gelê. Sy jong vriend het deur die barmhartigheid en die liefde van ons grote God en Saligmaker bely dat hy nie meer Rooms, ook nie gereformeerd is nie, maar 'n sondaar voor God. Die kolossus van menslike geregtigheid, die Dagon, het voor die ark van God geval.

Dit was vir Johannes onmoontlik om sy aandag van sy leermeester se skriftuurlike godsdiensonderrig af te hou - dit is met so 'n innige geloofsoortuiging aangebied. Nadat hy lank getwyfel en geweifel het, het hy voor die versoeking geswig om stilletjies self die Bybel te lees. Hy het so verdiep daarin geraak dat hy geskrik het toe hy meneer Quik voor hom gewaar, maar is met die volgende woorde gerusgestel: "Van Rooy, hoe bly is ek. Neem dit saam, dit is die beste wat jy kan doen ... " Van toe af het hulle saam gelees, saam gesels en saam gebid, so openhartig en vertroulik.

Hulponderwyser

Vir ongeveer ses jaar lank was Johannes leerling en hulponderwyser in die omgewing van 's Hertogenbosch. Hy het met meneer en mevrou Quik in aanraking gebly, asook met hul vriende, ds. H. van Andel, luitenant (later generaal) Von Wrangel en ander protestantse gelowiges.

Ondertussen het hy met sy Roomse familie saamgeleef en onder Roomse biegvaderskap verkeer.

Nadat hy hom elders gevestig het, het hy nog vier jaar lank maandeliks met meneer Quik gekorrespondeer. En o, die liefde tussen die weduweemoeder en haar jongste seun was so sterk. Moeder se seun was so 'n voorbeeldige kerkseun - hy met sy mooi stem onder die koorsangers.

Die pastoor was huisvriend met vaderlike seggenskap; niks mog vir hom verberg word nie. Daar is opgemerk wat in die jongeling se siel omgaan en daar is gepoog om hom van die protestantse invloed weg te lei. Die pastoor het aan die een kant die ammunisie verskaf, die protestantse vriende het aan die ander kant die provisie voorsien. So het dit vir nog twee jaar aangehou voordat die beslissing gekom het.

Die keerpunt

Johannes het saam met sy familie die kerkdiens bygewoon wanneer hy hulle besoek het. Ofskoon hy dit terwille van sy familie gedoen het, het hy op ‘n dag onder die beeldediens die gevoel van sy hopeloos verlore staat gekry as die Here hom daar en dan sou laat sterf. Hy het hom openlik verklaar teen die nuwe leer van Maria se onbevlekte ontvangenis, teen haar verering en teen alle ander soortgelyke leerstellings.

Sy liewe moeder, met wie hy baie geredeneer het en wat in baie dinge heimlik met hom ingestem het, kon nie met hom op die ingeslane weg meegaan nie. Sy susters was diep bedroef, sy enigste broer glo woedend: Uit die kerk, dan ook uit die huis!

Later is 'n poging aangewend om hom na die kerk en na die huis terug te bring. Dit was 'n uiters gevaarlike moment in Johannes se lewe. Met vrees in die hart het sy vriende hom na sy familie en die kerklike owerheid sien gaan. Biddend is die uitkoms afgewag. Wat was sy vriende bly toe hy behoue terugkom! Dit het gepaard gegaan met innige deelneming in sy groot smart van verban te wees uit die hart van sy familie. Later is hom selfs toegang tot sy sterwende moeder geweier.

Met jeugdige oormoed het hy in winkel, restaurant, kaserne en op straat teen afgodery en beeldediens getuig. Een aand moes hy terwille van sy lewe vlug. 'n Ander keer moes die polisie hom teen geweldpleging beskerm, waarop hy gewaarsku is om liewer na 'n ander plek te verhuis.

Nog lank daarna het Johannes deur die bemiddeling van meneer en mevrou Quik tyding van sy familie gekry. Sy familielede het nie aan hom geskryf nie en hom ook nie besoek nie. Na sy huwelik het hy weer twee jaar lank naby hulle in 's Hertogenbosch gewoon sonder enige kommunikasie.

Verdere godsdienstige en wetenskaplike vorming

Johannes het op verskeie plekke diens gelewer as hulponderwyser, mettertyd ook in Den Haag en Rotterdam onder die voorspraak van meneer Quik. Hy moes met 'n karige loon tevrede wees, geld wat soms afgeknyp is van die reeds geringe salaris van sy vroeëre hoofonderwyser. Met die voorligting van sy hoofde en sy geestesvaderlike vriend het hy hard studeer. Deur sy bekendstelling het hy met goedgesinde hoofde, predikante, ouderlinge en ander gelowiges in aanraking gekom. By voorkeur is hy verwys na die skole wat kort vantevore deur die bemoeienis van manne soos Groen van Prinsterer en Elout van Soeterwoude en die ywer van Christelike Gereformeerdes (afgeskeie) tot stand gekom het.

Terwyl sy gesogte en beminde leermeester uit beginsel Hervormd gebly het, het Johannes uit oortuiging by die Christelike Gereformeerdes aangesluit. Deur die sterk drang van evangelisasiekringe en sendingverenigings het hy besluit om na Brussel te gaan. Daar kon hy Frans bestudeer, in Nederlands onderrig gee en saam met die Vlaamsche Evangelische Gemeente na hartelus evangeliseer. In 1853 het hy met attestasie na Brussel vertrek.

In die Belgiese hoofstad was hy bedags gedurende skoolure onderwyser in Nederlands, saans het hy saam met ds. Van Maasdyk en andere evangelisasiewerk gedoen, en snags het hy Frans bestudeer. Binne drie maande het hy die taal redelik onder die knie gekry, maar is hy deur breinvliesontsteking aan die randjie van die graf gebring. Wat was die blydskap onder die dierbare vriende in Holland groot toe hulle verneem dat hy na liggaam en gees weer bekwaam vorder!

Huwelik

In die jaar 1854 het Johannes dertig jaar oud geword en ontdek dat dit nie goed is om alleen te wees nie. Hy het daarvan 'n gebedsaak gemaak. Sy predikant was gewillig om hom op huisbesoek saam te neem na huisgesinne waar hy wel 'n gelowige egvriendin sou kon ontmoet. Toe Dominee 'n winkeltjie instap om met ouderling Holsters te gesels, het Johannes 'n geselskap aangeknoop met die eienaar se dogter wat agter die toonbank behulpsaam was. Toe hulle daarvandaan vertrek, het hy by homself gedink: "Hier kom ek verder kennis maak." Spoedig kon hy Spreuke 18:22 op homself toepas: "Wie 'n vrou gevind het, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die Here verkry."

Anne Francoise Holsters was die dogter van Charles Holsters en Petronella de Gieter. Toe Petronella met Charles getroud is, was sy 'n weduwee met twee kinders wat albei jonk gesterf het. Anne was die oudste kind, en haar susters was Pauline, Marie, Josephine en Felicite en haar broers Gustave en Simon, name wat in haar nageslag in Suid-Afrika herleef het. Ofskoon hulle van Vlaamse afkoms was, was die spreektaal in die huis en op skool Frans.

Die vriende in Holland het besorgd gevra: "Wat gaan Van Rooy met ‘n kind van twintig jaar aan sy sy aanvang?" Die probleem was egter dat dit met sy skool in Brussel naderhand nie meer goed gegaan het nie en hy selfs na steun uit Holland moes uitsien. Sy eggenote se liefde, troue hulp en bekwame spaarsaamheid het egter vir hulle teenspoed vergoed en die wense van sy goeie vriende ruimskoots vervul.

Terug na Holland

Anne het met volkome oorgawe saam met haar man na sy geboortestad teruggegaan ofskoon die afskeid van haar ouerhuis, van haar geboortestad en van haar volk en vaderland nie maklik was nie.

Johannes het onderwyser aan die "besondere" of Christelike skool te 's Hertogenbosch geword. Daar het twee jaar van aangename arbeid en verkwiklike omgang met geesverwante soos die vriende Quik en J. van Andel gevolg. Anne het geleer om Nederlands beter te lees en te skryf, het vriendskappe aangeknoop en het saam met die "Afgeskeidenis" kerk toe gegaan. Haar paar juweeltjies en Brusselse kleredrag het die susters egter nie aangestaan nie. Op haar beurt is sy deur die pepermentdosies, die reukflessies en deur die warm stofies wat rondgeskuiwe word, gehinder. Sy is deur haar moeder besoek en haar eersteling, Henri Charles, is hier gebore.

'n Roepstem uit Suid-Afrika het na ‘s Hertogenbosch deurgedring. Daar was 'n behoefte aan regsinnige predikante en Christelike onderwysers vir die stamverwante Boere. Ds. A. Murray sr. van Graaff-Reinet en ds. A. Murray jr. van Bloemfontein het ‘n dringende beroep op die Nederlandse volk en kerk gedoen. Dit was 'n roeping so na Johannes se hart.

Die vraag was of Anne so ver van haar moeder wat nie meer so gesond was nie, sou gaan. In plaas van 'n tweede besoek van haar moeder het sy die keer 'n doodsberig ontvang. Vader Holsters het aanvanklik teegestribbel, maar wou homself nie besondig deur sy skoonseun se roeping te weerstaan nie, en het geantwoord: "Ga in vrede en mag de Heere met u meegaan." Met die afskeid het hy 'n klein boekie wat oor Psalm 121 handel, in sy dogter se hand geplaas.

Op reis na Suid-Afrika

Op 24 Oktober 1857 het die egpaar met hul tweejarige seuntjie, Henri aan boord van die seilskip, Karel August, van Rotterdam af vertrek. 'n Maand later is die tweede seuntjie op die Atlantiese Oseaan 25° NB 25° WL gebore. Hy het die name Antoine Charles Auguste ontvang. Op die wyse is die skeepskaptein, Antonie en die skip vernoem. Toe hulle op 26 Januarie 1858 te Port Elizabeth voet aan wal sit, was die nuweling reeds twee maande oud.

Ofskoon die skip maar 256 ton groot was, moes die passasiers met skuitjies na die strand geroei word. Daar aangekom, het die mans sommer uitgespring. Die vroue is deur swart diensvolk uitgedra. Ook die liewe moeder met haar telgies! Dit het gewemel van die swart "heidens" op die strand, wat die aandstond vir die vrou wat aan die verligte strate in 'n Europese stad gewoond was, nog donkerder gemaak het.

Die passasiers was hoofsaaklik onderwysers en onderwyseresse uit Nederland en Skotland. Meesters De Ridder en Maury het later Gereformeerde predikante geword. Die driejarige Isaac Nicolaas van Alphen wat saam met sy ouers gekom het, het in 1885 Posmeester-generaal van die ZAR geword.

Na die binneland

Van Port Elizabeth af is per ossewa na Hantam (Colesberg) gereis. Anne was nie eintlik lus om met 'n los leer na die voëlnessie onder die tent van die volgelaaide wa te klim nie. Toe sy verneem dat die reis drie weke sou duur, het sy die ongewone trap op gewaag terwyl die trane loop. Van haar skommelende sitbed was daar net 'n agter uitsig op die stofpad. By die uitspanning was sy aangenaam verras met wat sy gemeen het 'n bakkie appelmoes was. Toe sy net pampoen proe, het sy in trane uitgebars.

Op Graaff-Reinet het ds. Andrew Murray sr. voorgestel dat Johannes daar 'n betrekking as onderwyser aanvaar, musiekles gee en die kerkorrel bespeel. Hy het dit egter vriendelik bedank. Hy wou na die Boerejeug wat heeltemal van onderwys verstoke was, gaan. Uiteindelik het hulle by die broers Pienaar te Weltevreden in die distrik Colesberg beland.

Weltevreden

Johannes het die boereplaasstilte met die vredige rustigheid en losse vryheid geniet. Hy was so gesond soos nog nooit vantevore nie. Anne se gesondheid het egter gekwyn, en sy was swakker en vol heimwee. "Jammer dat Meester se vrou nie heeltemal wil aard nie" merk die liewe tantes meevoelend op.

Op Weltevreden is Jan gebore, die eerste Van Rooy wat as Afrikanerseun die lewenslig sien! Sy moeder het egter so siek geword dat sy die dood in die aangesig gestaar het. Tog het sy wonderbaarlik herstel.

Destyds het 'n plaas- of buurtskool net bestaan totdat die kinders "volleerd" was. Dit het beteken dat die leerlinge die eerste beginsels van lees, skrywe en reken geken het. Hulle is in Bybelgeskiedenis en in die Kort Begrip opgelei totdat hulle belydenis van hulle geloof kon aflê. Indien Meester twee jaar lank kon aanbly, was daar ook geleentheid vir 'n bietjie Taalkunde, Algemene Geskiedenis en Aardrykskunde.

Vir 'n Christelike onderwyser met 'n innige geloofsoortuiging was daar nogtans 'n skone geleentheid om sowel die hart as die hoof van die kind te bereik. Die verstand en die goeie gesindheid van die boerekinders het die saad op goeie aarde laat val, en veel is uitgerig. So is van die een skool op 'n plaas na die ander in die distrikte Burgersdorp, Colesberg, Cradock en Middelburg rondgetrek.

Die ouer seuns in die gesin moes spoedig met die onderwys help. Van die jonges is verwag om bedags skaap op te pas, hulle lesse in die veld te leer, saans dit op te sê en daarna verdere onderrig te ontvang. Die vader het geen ledigheid, slapheid of lamlendigheid geduld nie. "Niets te doen? Rep je wat, jonge! "

Goeie raad

In De Maandbode van 1 September 1875 het J.C. van Rooy 'n brief geskryf wat in Afrikaans soos volg lui:

"Neem geen onderwyser vir u kinders aan wat deur te hoë geleerdheid opgeblase is nie, maar iemand wat bekwaam is met genoeg kennis van sy vak. Huur volstrek geen vloeker of drinker nie noch die gemeene taal spreekt' maar iemand wat godvrugtig is en homself goed gedra. Vermy 'n onderwyser wat graag raas of smaal of nie sonder 'n lat kan klaarkom nie, maar soek 'n vriendelike onderwyser wat veral jeens die minder vatbare leerlinge liefderyk is."

"Neem 'n meester dit kwalik indien hy gewoonlik in skooltyd koerant lees, velskoene maak of sommer op die kooi lê, maar soek 'n ywerige onderwyser wat veral deur die voorbeeld kinders goeie maniere leer."

"Die beste onderwyser laat nie u kinders die ganse dag ‘op skool' sit nie. Hy bespied hulle nie tussen skoolure nie en vit nie op die kinders nie. Die verstandige opvoeder sal daarteen waak om die gesondheid van u lieflinge te benadeel, en aan hulle 'n bietjie speeltyd gun."

"Ag 'n goeie onderwyser hoog, beknibbel nie sy loon nie. Sy lewe word deur u veraangenaam en sy moed deur u goeie gesindheid verfris; hy arbei vir u dierbaarste belange.

"Mag die Here tot eer van sy Naam, u, u onderwysers en deur u beide die heerlike werk van die opvoeding en onderwys seën tot heil van die opkomende geslag. Dit is die wens van 'n vriend van u kinders."

Beproewing

Kort na hulle oudste dogter, Claartjie se geboorte het Johannes op die plaas Vriesfontein kouegevat met nat skoene aan sy voete. Daarna het hy die res van sy lewe bitter aan asma gely. Die toestand is vererger toe hy na die tweede dogter, Annie, se geboorte rumatiekkoors gekry het. Toe ds. Dirk Postma hom na sy toestand vra, antwoord hy: "Naar het lichaam zwak, naar de ziel wel."

Meester se salaris aan kontant en ware was soos op elke plek ooreengekom in elk geval nie ruim nie. Sy beskeie veeboerdery het ook teenspoed gekry. Soos die ou mense sê "pla die vee so om sommer te vrek van armoede."

Die moeder het die gesin gevoed en geklee deur maar self kos te kook en klere te maak. Alle spaar- en geselstydjies is benut om met naaldwerk, hekel en brei wins te maak. Deur so tering na die nering te sit, is daar altyd 'n bietjie gespaar en vir 'n kwader dag opsygesit.

Steynsburg

In die jaar 1874 het ds. M.P.A. Coetsee jr. die predikant van die Gereformeerde Kerk Steynsburg geword. Hy was 'n ambisieuse jong man wat veral vir die onderwys baie groot ideale gekoester het. Hy is gesterk deur ‘n sinodebesluit van 1873 dat "die kerkrade soveel moontlik gemeenteskole moes oprig." Die besluite van hierdie sinode was aanleiding vir die kerkraad en gemeente van Steynsburg om 'n kragtige beweging aan die gang te sit om 'n Christelike skool op te rig en in stand te hou.

Aan die einde van 1874 het die kerkraad inderdaad besluit om 'n kerkskool op te rig. Die gemeente het ‘n waarborg vir vyf jaar gegee. Die waarborg sou ten minste gelykstaan aan die salaris wat aan die onderwyser gegee word.

Daar moes 'n onderwyser gevind word. Die keuse het op meester J.C. van Rooy geval. Hy was heeltemal tevrede om op die plaas Grootvlei in die distrik Middelburg aan te bly en die mense aldaar wou nie graag sy diens as onderwyser verloor nie. Na moeitevolle onderhandelings het hy tog ingewillig om na Steynsburg te gaan. In die begin van 1875 is die kerkskool te Steynsburg geopen. Meester Van Rooy is in 'n kerkgebou voor honderd leerlinge van verskillende ouderdomme en skoolondervinding geplaas en moes probeer om met hulle die mas op te kom.

Aan die einde van die jaar was dit duidelik dat hierdie poging nie sou slaag nie. Daar was 'n taamlike mate van ontrouheid aan die kant van die waarborgtekenaars. Meester Van Rooy het ondanks sy swak gesondheid 'n ongelyke stryd gestry om die kerkskool aan die gang te hou maar die poging moes uiteindelik gestaak word.

J.C. van Rooy & Kie

Toe dit nie meer anders kon nie, het Anne met 'n winkeltjie begin. Dit was nie vir haar 'n onbekende onderneming nie, aangesien sy in haar jong dae in Brussel self agter 'n toonbank gestaan het. Op 47-jarige leeftyd kon sy dit weer doen. Claartjie was al getroud, maar Annie kon die huishouding waarneem. Die sestienjarige Izak het reeds ondervinding as winkelklerk gehad en Koos kon wel agter die toonbank tyd vind om sy skoolwerk te doen.

Deur bemiddeling van Henri is die voorraad van die firma Close te Middelburg oorgeneem en is met die handelaars te Port Elizabeth in verbinding getree. Op 2 Januarie 1882 is die winkel geopen. Twee jaar later kon Koos vir verdere studie na Burgersdorp gaan. In 1886 kon Charles wat al eintlik 'n ervare sakeman was, op 'n bekwame wyse en met ondernemingsgees die geledere versterk, terwyl Izak noukeurig en versigtig die boekhouding behartig het.

Op 'n Kersfees- of Nuwejaarsmôre is ontdek dat die winkel se deure, vensters en mure met koolteer betakel is. Die boere stroom toe so op die winkeltjie toe dat Jan en Louw, Claartjie se man, 'n tydlank hul boerdery moes prysgee om te kom help.

Toe Annie in die helfte van 1884 getroud is, kon haar moeder weer die huishouding oorneem en haar eggenoot in sy toenemende krankheid versorg.

Die egpaar was baie trots op 'n ovaaltafeltjie met mooi snywerk aan die kante en met tekenwerk bo-op die blad met 'n wegsteekplek daaronder. Toe Johannes by geleentheid by die lig van 'n gaslamp by die tafeltjie gesit het, en asma horn oorval het, het hy vorentoe geval, waarop die lampie omgeval en die tafeltjie gebrand het. Gelukkig was daar onmiddellik hulp. Anne het met 'n sagte hand sy hoof ondersteun. Koos was tuis en kon sy vader neem en neerlê. Die tafeltjie is later herstel, maar die brandmerk was nog sigbaar. Dit was 'n uitgeteerde liggaam wat in die begin van 1889 deur sy seuns en 'n skoonseun na die graf gedra is.

Na sy afsterwe het Anne die besigheid met die steun van haar seuns Charles en Izak voortgesit.

'n Besoek aan Europa

Die dag na Johannes se begrafnis is 'n brief van hulle tante Leonie uit Europa ontvang. Op haar uitnodiging het Anne saam met haar seun Izak en haar dogters Clara en Frederica na België vertrek nadat ds. Jan Lion Cachet hulle in die gebed in die veilige hande van God opgedra het. Die ontvangs in Brussel het in die ouerlike woning geskied. Toe die grysaard boaan die trappe verskyn, sê Anne: "Kinders, dit is Oupa!"

Anne het haar suster Felicie Poisat in Bordeaux, Frankryk, besoek en in Nederland het sy haar dogter Frederica aan die 87-jarige mevrou Frederica Quik voorgestel, die goeie vriendin na wie sy vernoem is.

In Brussel het Anne en haar kinders regop bly staan toe 'n Mariabeeld in 'n optog by hulle verbygedra is. Die knielende skare het dit afgekeur, maar hulle laat begaan ..

Na hulle terugkoms het die winkel te Steynsburg van krag tot krag gegaan. Wildsvelle en -horings is van die Boere in Angola ingevoer en verkoop. Die Vrystaters is van mausers voorsien.

Die Tweede Vryheidsoorlog

Nadat die Boerekommanrlo's die Kaapkolonie binnegeval het, het hulle op 10 Desember 1899 'n groot oorwinning by Stormberg behaal. Charles en Jan van Rooy het die burgers aangespoor om na Oos-Londen deur te druk, maar die bevelvoerders het gemeen dat dit 'n tweede Slag van Majuba was en dat Groot-Brittanje om vrede sou vra.

Nadat hulle optrede aan die owerheid bekend geword het, is Charles in hegtenis geneem. Jan is voor sy moeder Anne se oë na die tronk verbymarsjeer. Later is hulle op borgtog van onderskeidelik R20 000 en
R24 000 vrygelaat. Die plan was om Charles summier voor 'n militêre hof te daag. Deur die bemiddeling van sy goeie vriend, John X. Merriman, is hy deur 'n burgerlike hof verhoor waar hy weens 'n gebrek aan stawende getuienis vrygespreek is. Jan het in 1901 voor 'n spesiale hof te Colesberg verskyn. Weens botsende getuienis is hy onskuldig bevind en ontslaan.

In Steynsburg is krygswet toegepas. 'n Kakie het subiet die winkel ingestap en van Anne die sleutels opgeëis om die eiendomsreg vas te stel. Weens sensorskap was daar van vrye kommunikasie geen sprake nie. Vyftien maande daarna verneem Koos (b7), terwyl hy in Transvaal veldprediker is, by 'n goedgesinde Engelse offisier dat sy moeder na Holland uitgewyk het, vergesel van haar seuns, Charles en Izak met sy gesin, en haar dogter, Frederica met haar hele gesin. Met 'n veelseggende glimlag het hy die Britse offisier toegevoeg: " ... and that long Frenchman Poisat has taken over the business."

Gedurende die skeepsreis het Anne al die handelsdokumente wat die familie in die gedrang kon bring, in die see gegooi. In Europa het sy weer haar suster, Felicie en Josephine (Fina) besoek. Intussen is die jongste seun, Koos se vrou en kindertjies van Nylstroom af in oop spoorwegtrokke weggevoer en is toegelaat om na hulle familie in Steynsburg te gaan. Pauline (b8) het hulle in die ouerlike woning ontvang, hul toevlugsoord met die winkel as voorraadskuur langsaan. Daar is twee nefies, Paul Poisat en Jacobus van Rooy, die naamgenote van hul vaders, gebore.

Met Anne-hulle se tuiskoms van Europa, was byna almal weer bymekaar om saam die Here vir sy onuitspreeklike gunsbewyse te bedank.

Skemering

Nadat die donker oorlogswolke gewyk het, het Anne se lewenson begin ondergaan. Die son het nog helder strale van liefdesdiens uitgeskiet; 'n wolkeboog van kleureprag het agter die verbygetrokke stormweer sigbaar geword. Haar seun, Izak se diakenskap het Anne se kontak met die behoeftiges makliker gemaak. 'n Enkele wenk en die volgende Sondag is 'n ronde sommetjie - toegedraai in ‘n papiertjie met vermelding van die bestemming in die kollektebus by die kerkdeur gevind.

Na die oorlog het die belangstelling in Christelik-nasionale onderwys herleef, nie soseer uit beginsel nie, maar ter beskerming van die volkseie. Onder leiding van die jongste skoonseun, ds. P.C. Snyman, het die kerkraad opnuut 'n vrye Christelike skool te Steynsburg opgerig. Na 'n gesprek met haar oudste seun, Henri, het Anne R2 000 geskenk om 'n losieshuis op te rig.

Anne het 'n fyn, deftige dame gebly wat vir haarself die weelde veroorloof het om sykouse uit Europa te bestel. Met die sinode van Middelburg het sy by Frederica gekuier. Koos het ouderling Kamp aan sy moeder voorgestel. Op pad terug het die besoeker opgemerk: "'n Eerbiedwaardige gryse moeder, wat 'n tipe tog van 'n welopgevoede Hollandse dame!" Jare daarna het prof. Kamp weer na hierdie ontmoeting verwys. Ofskoon haar 'n moeitevolle lewe te beurt geval het, het sy nooit haar selfrespek ingeboet nie.

Die kinders het so begeer om hulle moeder tot ‘n hoë ouderdom in hul midde te hou. Onvergeetlik vir die kinders was daar om die legerstede, daardie laaste lydensweek, daardie sterwensnag toe hulle haar moes bystaan. Vroeg die Sondagmôre het Izak sy dogter, Tuttie, saamgeneem. Daar was sy getuie van die ontbinding van haar grootmoeder se siel uit die liggaam om die Sabbatsrus van die volk van God in te gaan. Op twee maande en drie dae na het sy sewentig jaar oud geword.

Ds. Jan Lion Cachet het met die begrafnis van Johannes opgetree. Met Anne se begrafnis het prof. Jan Lion Cachet die trooswoord gerig. "Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak, want U, o Here, alleen laat my in veiligheid woon." (Psalm 4:9)

'n Paar uur na-die begrafnis het die aantal kleinkinders met 'n derde tweelingpaar toegeneem.

→ terug na die geskiedenis