Familie van Rooy

Het u Van Rooy bloed in u are?

Dit is moontlik dat u 'n familieverband met die van Rooys het indien u van Botha, Coetsee, Coetzee, de Klerk, du Plessis, Fourie, Kruger, Pienaar, Poisat, Snyman, Steyn, Stoker, van der Walt, van Niekerk of Viljoen is. U kan maklik naslaan of u of u ouers nie miskien familie is deur die geslagregister van die van Rooys na te gaan. Die omvattende register bevat die nageslag aan vader sowel as moederskant.

Van Rooy boekie
J.C. van Rooy - A.F. Holsters
deur Koos van Rooy (b7)
 

Die Familie van Rooy in RSA
Die Familie van Rooy
in Suid-Afrika
deur Bertus van Rooy (b7d3c1)
 

De bergen zullen vrede dragen
De bergen zullen vreden dragen
deur Jan W. Klijn

Daar is wêreldwyd opnuut belangstelling oor die oorsprong, wel en weë van die mensdom. Dit word wetenskaplik aanvaar dat die mensdom in Afrika ontstaan het, of beter gestel geskape is. Vanuit Afrika het die mensdom oor die hele wêreld versprei.

Die van Rooy familie in Suid-Afrika het vir meer as 150 jaar goed boekgehou van die geskiedenis asook nageslag van die familie. Henri van Rooy (b1), oudste seun van die stamouers, het briewe en dokumente rakende die familie versamel. Die jongste broer, Koos (b7), het die geskiedenis van sy ouers in 1936 in die die boek J.C van Rooy   A.F. Holsters in fyn besonderhede weergegee. Die tweede seun, Charles (b2), het in die 1940s met die hulp van Willem van Loon (b2c3d2) 'n familieregister opgestel.

Die familie het gedurende die 1980s besluit dat Bertus van Rooy (b7d3c1) die gawes besit om die werk voort te sit. Hy het die taak met groot entoesiasme, ywer en deursettingsvermoë aangepak. Baie korrespondensie deurmiddel van die tradisionele posstelsel het gevolg om inligting in te samel vir die uitgebreide geslagregister. Die familiegeskiedenis asook verhale van etlike vroeë familielede is netjies met die hand opgeskryf. Die vrug van al Bertus se harde werk is die boek met die titel "Die familie van Rooy in Suid-Afrika" wat in 1992 gepubliseer is.

Bertus het met die publikasie van die boek "Die familie van Rooy in Suid-Afrika" reeds besef dat die werk nie afgehandel is nie en dat iemand die leisels sal moet oorneem, iemand met rekenaarkennis want die familie raak te groot om die werk met die hand te doen. Ek, Jan van Rooy, het 'n brief in 1996 van my oom Bertus ontvang waarmee die verantwoordelikheid aan my oorgedra is. Die staal kabinet met al die van Rooy dokumentasie het spoedig gevolg. Dit is nou meer as 10 jaar later en hierdie webwerf is my poging om hierdie familie opdrag uit te voer. Die doelwit van die webwerf is om die geskiedenis en geslagregister van die van Rooy familie vir almal wat belangstel beskikbaar te stel.

Die werk van Koos van Rooy (b7c7d1) as sendeling onder die Vendas in Suid-Afrika gryp die verbeelding aan van die Nederlandse skrywer Jan W. Klijn. Hy skryf 'n biografiese roman met die titel "De bergen zullen vrede dragen" wat in 2002 gepubliseer is. Die boek begin heel gepas met die vroeë geskiedenis van die van Rooys in Suid-Afrika en daarna volg die lewensverhaal van professor Koos van Rooy.

Jeanne van Rooij, wat die webwerf van die Van Rooij familie in Nederland instandhou, het inligting van die voorgeslagte van ons familie in Nederland opgespoor en vir ons deurgegee.

Net voor die 2008 familie-saamtrek het ek op die web gesoek vir inligting oor Huisseling, die geboortedorp van die stamvader. Ek ontdek dat daar gewerk word aan 'n boek oor Huisseling en versoek dat hulle vir my asseblief inligting oor die familie van Rooij sal deurstuur indien hulle daarop afkom. Joost Kocken epos 'n week na die familie-byeenkoms vir my fantastiese inligting wat die familie se voorgeslagte terugvoer tot met Cornelis Willems van Roij gebore in die 17de eeu. Dit was egter nie die einde van die storie nie. In 2012 word die boek "Huisseling van verleden tot heden" gepubliseer met 'n artikel "De familie Van Rooy in Zuid-Afrika".

Hierdie webwerf het 'n vorm, aangedui deur "byvoeg of verander", wat u kan gebruik om familie inligting op datum te bring. 'n Geslagregister is opsigself nie baie opwindend nie en ek sal dit waardeer indien u familieverhale en fotos kan aanstuur vir plasing op die webwerf. Verdere besonderhede is beskikbaar op die geslagregister-bladsy. Maak ook gerus gebruik van die gasteboek.

Vertel, bel, sms, epos die webadres (http://www.vanrooy.org.za/) vir u familie asook vriende want hoe meer siele hoe meer vreugde!

Groete
Jan van Rooy (b7c3d4e1)   epos

Outeursreg op die boek "Die familie van Rooy in Suid-Afrika"

Die inligting in boek "Die familie van Rooy in Suid-Afrika" deur Albertus Jacobus (Bertus) van Rooy is aanvanklik gebruik om hierdie webwerf te skep. Die eienaar van die outeursreg, naamlik die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA), het op 24 November 2006 toestemming verleen dat die materiaal in die boek gebruik mag word vir hierdie webwerf.